Hierdie handleiding gee duidelike bakens om groei onder leiding van die Gees moontlik te maak. Dit volg die eeu-oue roete van sondebesef, verlossing in Christus en die dankbaarheidslewe wat noodwendig daarop volg.
Dit is ‘n pad wat begin by die onaangename, maar onafwendbare punt van bekering; bekering van die oersonde van eiewilligheid as afgodiese praktyk; maar dan, ná opregte sondebelydenis groei die bevryde mens tot volle, oorgegewe gehoorsaamheid aan die wil van God.
Slégs deur egte skuldbelydenis en biddende gehoorsaamheid aan die wil van God kan werklike bekering in dade sigbaar word; bekering wat inkeer, afkeer, terugkeer en gehoorsame groei na Christus toe beteken. Genadiglik is daar nou nog tyd om aan bekeerdes, maar óók aan onbekeerdes, die volle Christus-boodskap opnuut te bring; om sy verbondskinders uit alle tale, volke en nasies tuis te laat kom in ‘n biddende, Christusgesentreerde, gesonde organies-groeiende gemeente.
Die kieslys verloop dus soos volg:
Ons word ernstig vermaan. Dan kom ons by die punt om die toestand te Erken, Selfevaluering te doen en te Besef wat die wil van God is in hierdie krisis. Hierdie proses noem ons kortweg die E-S-B-proses. Wanneer die proses deur die gelowiges deurloop is, kan voortgegaan word met nuwe gedagtes, nuwe woorde en nuwe planne en dade oor kerkgroei.
Nuwe gedagtes, woorde en dade moet geanker wees. Die vier pilare vir kerkgroei is gebed, groei, oplei en inrig. Dit is in die vier beginsels van die liefdesgebod ingebed. Christus oorspan die hele proses en is in alles eerste. Dan word gefokus op afhanklike en voortdurende gebede. Groei vind plaas waar die gemeente opgebou word en ook uitgebou word soos die Groot Opdrag dit beveel. Groei vind ook plaas wanneer gemeentes so bestuur word dat die Gees op natuurlike manier (organies) groei laat plaasvind). Praktiese riglyne word gegee waar Inrig – lees aangedui word.
Dis belangrik om van stap een af te onthou dat niks behoorlik sal werk as toerusting/opleiding van leierskap, in effektiewe kommunikasie en in die hersiening en evaluering van wat beplan is, nie behoorlike en volhoubare aandag in die nuwe aanpak kry nie.
In dieselfde asem word begin om deur die Skrif en gebed uit te vind wat God se taak vir elke unieke gemeente is visie, roeping, identiteit [teologiese begronding].
Terselfdertyd word ondersoeke gedoen oor die konteks of omstandighede waarbinne die gemeente leef [kontekstuele begrondings]. Die ondersoeke gaan oor die gemeenskap en die gemeente.
Wanneer hierdie inligting verwerk word, kry die gemeente reeds ‘n idee van wat God se plan nou in die spesifieke gemeente is. Tog is dit die gemeente wat die roeping gaan gehoorsaam en daarom moet die stuurspan weet waar staan die gemeente geestelik. ‘n Profiel van die gemeente word dan vasgestel. Saam met al die inligting wat nou alreeds ingewin is, word die rigting wat die gemeente moet inslaan en wat gedoen en beplan moet word vir opbou en uitbou vir opbou en uitbou, duidelik.
Die laaste punt wat die gemeente weer by ‘n nuwe beginpunt sal bring, is dat al die genoemde sake, by herhaling hersien en geëvalueer (gerevisioneer) moet word om te verseker dat die gemeente in die vinnig veranderende tye, jaar na jaar koersvas bybly met God wat deur Christus aan die beweeg is in die spesifieke gemeente.
‘n Missionale kerk word gekenmerk deur voortdurende gebed waardeur gesmeek word om geestelik tegroei en om die verlossing van Christus aan almal te verkondig, om só as sy gestuurdes aan die wil van God, gehoorsaam te wees.
Om aan die wil van God te voldoen, het Jesus die Groot Opdrag aan sy kerk gegee.
Die Groot Opdrag beteken dat die kerk kan groei deurdat twee sake gelyktydig plaasvind.
Die twee sake is om:
die gemeente na binne op te bou en geestelik te laat groei tot volwassenheid (Kol 1:28; II Kor 13:9, 11), en
tersélfdertyd die gemeente na buite uit te bou deur in getalle te groei wanneer mense van buite deel gemaak word van die uitverkores (Ef 3:6).
Ons gebed in die geweldige taak is:
Net om U wil te doen soos in U boek –
die wonderskrif wat nooit vergaan en klaar vir my geteken staan …
dít wil ek, Heer, van ganse harte soek!
Ek bied U hart en hande in gewillige offerhande … al wat ek is en het.
Diep in my ingewand, waar liefde en ywer brand, dra ek U heilige wet
(Psalmberyming Psalm 40:4).
Mag die Gees ons in ons swakheid daartoe help!
Vir verdere bronne en verifiëring:
Prof. Gert Breed Bediening van gemeente: https://www.youtube.com/watch?v=l3W08JPZSOU
Prof. Flip Buys Stimulating the ministry of prayer in local reformed churches
Buys P.J. (Red) God bou met Lewende Stene – ‘n Handleiding vir kerkplanting. Administratiewe Buro van die GKSA
Gilbert, D. E. 2004. “Deep change” or “slow death”? A practical road guide for the highway of change. A learning manual for church boards. Submitted for the Western
Theological Seminary in partial fulfillment of the requirements of the degree of Doctor of Ministry.
‘n Kopie van die verhandeling is beskikbaar in die TSP-biblioteek of volg die skakel: Bronne